Nuwe ontdekkings teen borskanker

Wetenskaplikes het ’n beeld ontwikkel van die genetiese gebeure wat die oorsaak is vir die vorming van borskanker.

Die grootste studie wat tot nog toe onderneem is oor borskanker, word nou as ’n reuse deurbraak beskou wat oor die potensiaal beskik om die geheime te ontsluit en nuwe weë

 te vind in die behandeling van die toestand.

Die resultate van die deurbraak wat in die wetenskaplike tydskrif, “Nature”, gepubliseer is, beskryf wat die genetiese foute in die liggaam is wat veroorsaak dat borskanker ontwikkel.

Die Internasionale span wetenskaplikes het sowat 3 miljard geskrewe stukke genetiese kodes en die totale “bloudruk” van die lewe bekyk wat in 500 borste met kanker teenwoordig is.

Daarvolgens is meer as 90 stelle aanduidings of genetiese faktore wat kanker kan veroorsaak reeds geïdentifiseer.

Wetenskaplikes sê die bevinding is ’n belangrike stap om nuwe medikasie te ontwikkel in die bestryding van borskanker, wat later selfs vir ander kankertipes gebruik kan word.

Die menslike liggaam bestaan uit meer as 20 000 gene waarvan 93 gene oor die eienskap beskik om borskanker te ontwikkel, en die inligting is nou vir die eerste keer beskikbaar om medikasie te ontwikkel.

Dit kan egter tot tien jaar in beslag neem om medikasie te ontwikkel, maar intussen word verdere navorsing gedoen wat waarskynlik die proses kan bespoedig.