Noodtoestand in Peru oor vergiftiging

In ’n groot deel van die Amasone gebied van die Suid-Amerikaanse staat Peru, moes die owerheid inderhaas ’n noodtoestand afkondig oor besoedelde water wat ’n ernstige gevaar vir lewe inhou.

President Ollanta Humala moes dringend ingryp en ’n 60 dae noodtoestand afkondig nadat vasgestel is dat ’n hoë persentasie kwik in die water teenwoordig is, wat uiters gevaarlik vir mens en dier is.

Ondersoekers het later vasgestel dat die kwikbesoedeling afkomstig is van onwettige gouddelwers in die gebied, aldus die minister van mynbou.

Die besoedeling wat na aan die grens met Brasilië is, het reeds talle mense besoedel wat van die water gebruik het vir hulle voedsel voorbereiding.

Peru sit met meer as 20,000 werkers wat op onwettige wyse goud myn, veral in die noordoostelike deel van die land.

Die werkers soek in die moerasse en riviere na goud en gebruik dan kwik om metaal en klipsteen van mekaar te skei, wat veroorsaak dat hulle van die stof inasem of selfs die kwik sonder enige beskerming hanteer.

Ondersoekers sê sowat 40 ton kwik kom op die wyse in die water van riviere in die Amasone gebied en tans is sowat 85,000 vierkante kilometer besoedel met kwik.