Nog ‘n kattebak moordskok

Die polisie is warm op die spoor van twee verdagtes nadat nog ‘n lyk in die bestek van net meer as twee weke in die kattebak van ‘n motor in Krugersdorp gekry is.

Die jongste skokmoord op Kevin Mc Alpine (29 jaar) toon ooreenkomste met die vorige geval waarin Anthony Scholefield ook in die kattebak van sy motor gekry is.

Altwee die vermoorde mans was versekeringsmakelaars en klaarblyklik het beide die afgelope tyd afsprake met kliënte by die Key West- winkelsentrum gehad.

Hulle motors was altwee silwerkleurig en hulle lyke is toegedraai in plastiek en in die kattebak van hulle voertuie geplaas. Die voertuie is verlate in strate naby aan die sentrale sakesentrum van die dorp gekry met die motorsleutels steeds in die aansitter.

Kevin is deur sy familielede as vermis by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), waarvan Kevin ‘n lid was, aangemeld.

Sowat 250 GPF-lede het na hom begin soek en sy werkgewer het die opspoorder in sy maatskappymotor geaktiveer.

Binne ‘n kwartier is Kevin se motor in die Wentworth-park gebied opgespoor. Sy pa, Chris, het sy seun se lyk in die kattebak, toegedraai in plastiek, gekry.

Hy is klaarblyklik verskeie kere met ‘n stomp voorwerp geslaan.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat Kevin se moord verband hou met die moord op die 64-jarige Scholefield.

Foto – Die Key West-winkelsentrum op die hoek van Paardekraalweg en Viljoenstraat