Nog Kubaanse dokters vir Vrystaat

Nog Kubaanse dokters het aangeland in die Vrystaat, waar die gesondheidsdienste die afgelope jare met rasse skrede agteruit gegaan het.

Die 22 dokters is deur die uiters omstrede LUR vir gesondheid, Benny Malakoane, verwelkom en moet glo die nypende tekort aan dokters in die provinsie help verlig.

Hulle gaan drie jaar in die land deurbring en sal na verskillende hospitale in die provinsie ontplooi word.

Intussen sal sowat 200 Suid-Afrikaners na Suid-Afrika terugkeer wat as dokters in Kuba opgelei is. Kuba is ‘n land wat internasionaal hoegenaamd geen erkenning geniet as synde toonaangewend op mediese gebied nie.

Die boodskap oor die krisis in die provinsie se gesondheidsorg het onlangs baie hard en duidelik oorgekom nadat ‘n sesde spesialis van verloskunde en ginekologie in die bestek van die afgelope paar maande in die Vrystaat bedank het.

Hierdie bedankings is bekend gemaak te midde van ‘n hernieude aandrang dat Malakoane afgedank moet word, maar hierdie eis, wat al oor ‘n tydperk van jare opklink, word net in die wind geslaan.