Net nie-rassige stelsel gevra in skole

Afrikaners het niks om te vrees nie, aangesien daar nie ‘n “nuwe swart gevaar” is wat dreig om Afrikaner-gemeenskappe te verstoot nie.

Hierdie versekering is deur die hoogs omstrede LUR vir onderwys in Sentraal-Transvaal, Panyaza Lesufi, gegee.

Volgens hom sal sy departement die leiding neem om met Afrikaner-gemeenskappe te vergader om aan hulle te verduidelik dat nóg hulle skole, nóg hulle taal word bedreig, “ons vra net ‘n nie-rassige stelsel”.

In hierdie trant het Lesufi gevra: “Wat is daarmee fout om sesjariges te laat saamspeel en -sing?”

Maar bygevoeg: “As nie-erassigheid iets is wat jy nié wil hê nie, gaan ons dit ongelukkig op jou afdwing. Want nie-rassigheid is nie sleg nie.”

Enigiemand wat voorstel dat sekere gemeenskappe “uitgedruk” sal word of nie toegelaat gaan word om hul taal te praat nie, mislei mense, aldus die LUR.

Hy het sy siening van sake soos volg uiteengesit. “Hulle skep ’n nuwe swart gevaar. En ons sal dit nie toelaat nie, want ons omhels nie-rassigheid. Suid-Afrika behoort aan die mense wat hier woon. Al ons skole behoort aan al ons kinders. Al hierdie geriewe behoort aan ons almal”.

‘n Taakspan is glo reeds aangestel om na die nuwe grense van voedingsgebiede te kyk, en die nuwe grense sal aanstaande jaar aanwys word.