Nampo vier 50 jaar

Nampo Oesdag vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar van 17 tot 20 Mei net buite Bothaville. In hierdie vyf dekades het dit gegroei tot een van die grootste landboubyeenkomste in die land en kan ook daarop roem dat dit van wêreldgehalte is.

 

Die voorsitter van van Nampo Oesdag, Cobus van Coller, meen dat dit in ‘n droogtejaar veral vir produseerders belangrik is om die Oesdag by te woon. Hy het bygevoeg dat dit uiters belangrik vir produseers is om met mekaar te praat, inligting uit te ruil en uit te vind wat mens tot jou boerdery kan voeg om waarde daartoe te voeg.

 

Die uitvoerende direkteur van Graan SA, Jannie de Villiers het sy woorde beaam en produseerders en die gemeenskap daaraan herinner dat dit altyd bemoedigend is om bymekaar te kom en dat dit des te meer geld in hierdie moeilike tye.

 

Sedert die beskeie begin van die Oesdag in 1967 het dit gevorder tot ‘n geleentheid waartydens 70 000 besoekers verlede jaar 650 uitstallers kon besoek. Vanjaar sal daar benewens die wye verskeidenheid plaaslike uitstallers ook meer as 60 buitelandse uitstallers deelneem.   

 

Graan SA beoog om ‘n byeenkoms en ete gedurende die Vrydag te hou om sy uitvoerende lede en vrywilligers asook personeel te huldig wat oor die afgelope 50 jaar ‘n bydrae gelewer het. 

 

Vanjaar sal besoekers op hoogte kan bly van alles by die Oesdag deur ‘n splinternuwe NAMPO-app (toepassing) gratis op hul slimfone en tablette af te laai. Die toepassing kan vooraf afgelaai word en sal al die inligting van deelnemende uitstallers en hulle produkte verskaf.