Nampo 2016 oes rekords

Die rekords het behoorlik gespat by vanjaar se Nampo-oesfees buite Bothaville in die Vrystaat.

Ondanks die moeilike landboutoestande het ‘n rekordgetal mense, naamlik 75 116 die 50ste oesfees bygewoon, terwyl 685 uitstallers deelgeneem het.

Dit was die meeste tot nog toe wat aan dié vier dae lange handelskou deelgeneem het, het Graan SA in ’n verklaring gesê.

Die uitvoerende hoof van Graan SA Jannie de Villiers het sy hoed vir Suid-Afrikaanse boere afgehaal. “Ten spyte van moeilike omstandighede sien produsente steeds kans om in die bedryf te belê. Hulle het nie net Nampo toe gekom om te kyk nie, maar ook om oordeelkundige aankope te doen. Hulle gee ons mense hoop.”

“Die Nampo-oesdag het die afgelope halfeeu ontwikkel in ’n handelsmerk wat moderne landbou in Suid-Afrika akkuraat uitbeeld,” het die voorsitter van die oesfees,Cobus van Coller, in die verklaring gesê.

Die Nampo-oesdag vind in 2017 van 16 tot 19 Mei plaas.