N-Korea hou kongres

Die kommuniste van Noord-Korea hou saam met hulle leier, Kim Jong Un, ‘n kongres wat Vrydag in aanvang geneem het, maar waarvan bloedweinig bekend is.

Die Werkers Party, wat die enigste politieke struktuur is wat toegelaat word, se kongresgangers het glo vir etlike ure gesit en luister na die toespraak van die leier.

Die kongres is die eerste in bykans 40 jaar wat deur die kommunistiese Werkers Party gehou word, en die besprekings sowel as moontlike besluite sal streng geheim gehou word soos in die verlede.

Kenners sê die kongres is belê met die hoofdoel om Kim Jong Un se leierskap as ononderhandelbaar te herbevestig.

Om kongresgangers te beïndruk, is die missieltoetse vroeër uitgevoer om daarmee die leier se “kragdadige optrede” te demonstreer.

Kim Jong Un het sy pa opgevolg wat as stigter van die Noord-Koreaanse Werkers Party nog die vorige kongres in 1980 gehou het.

Kim het in sy openingstoespraak gesê Noord-Korea sal sy kernwapens slegs aanwend as die land bedreig sou word.