Moody’s gee SA ‘n blaaskans

Suid-Afrika kan weer asemhaal nadat die kredietgraderingsagentskap, Moody’s, aangekondig het dat hulle die land se ekonomie voorlopig nie gaan afgradeer nie. Die land behou dus sy gradering van Baa2-, wat slegs twee grade bokant rommel is.

Die afgradering sou ʼn groot terugslag vir die land se ekonomie gewees het, want dit sou onder andere tot gevolg gehad het dat dit duurder sou word vir die staat om geld te leen en dat dit buitelandse beleggers sou afskrik weens die verhoogde risiko om plaaslik te belê.

Dit is duidelik dat Moody’s ernstige gesprekke met die staat en andere gevoer het en dat daar waarskynlik sekere beloftes aangebied was oor die bestuur van die land se ekonomie.

Moody’s het onder andere die volgende faktore in berekening gebring in hulle besluit:

*Stewige beheer sal oor die 2016 begroting volhou word, veral met uitgawes.

*Aanduidings dat die land se ekonomiese groeikoers aanstaande jaar gaan verbeter.

*Politieke stabilisering sal gehandhaaf word en beleggingsvertroue uitgebou word, tesame met gemakliker vryemark deelname.

Intussen het die bewind se minister van handel en nywerheid, die kommunistiese partylid, Rob Davies, sy nuwe wetsvereistes vir groter BB-AAS (Engels BB-BEE) in die Staatskoerant gepubliseer wat groter aandeelhouding in besighede aan swartes moet afdwing.