Monsanto sê nee dankie

Die omstrede Amerikaanse maatskappy, Monsanto, het die Duitse vervaardiger, Bayer, se aanbod van die hand gewys, maar wel geluide gemaak van verdere gesprekvoering.

Die Amerikaanse saad- en plaagbestrydersmaatskappy het Bayer se aanbod van $62 miljard nie aanvaar nie, maar het darem die deur oopgehou vir moontlike onderhandelinge.

Monsanto sien glo die voordele wat dit inhou om ’n transaksie te beklink met die Duitse reus, maar die huidige aanbod weerspieël glo nie die volle waarde van die Amerikaanse vervaardiger nie, aldus Hugh Grant van Monsanto.

Indien die transaksie uiteindelik beklink sou word, sal dit die mees omstrede, en ook die grootste oorname wees in die geskiedenis van die Duitse ekonomie.

Monsanto het in omstredenheid verval met sy Roundup wat ’n gesondheidsrisiko inhou, asook met sy manipulering van sekere saadsoorte.

Deskundiges meen die oorname van Monsanto sal ’n naamsverandering meebring en ’n verandering in die produk wat as Roundup bekend is.

Bayer se aanbod van $122 per aandeel, is aansienlik hoër as die sluitingsprys van $101-52 wat op die bepaalde dag van die aanbod geregistreer is.