Mini Cooper Convertible

Wanneer daar gedink word aan die Mini van die verlede dan is dit met ‘n groot mate van nostalgie, maar ook met die wete dat dit darem ‘n klein Goliat was.

In besonder op die renbane van SA is bewys die motortjie kon sy man staan teen groter en kragtiger motors. Die nuwe Mini Cooper Convertible pas jou soos ‘n handskoen.

Die Cooper met die afslaandak is ‘n motor vir die liefhebbers van “wind in die hare”. Die op- en-afslaan van die dak word beheer met ‘n enkele skakelaar en werk baie doeltreffend. Dit neem sowat 18 sekondes en kan toegemaak word tot op ‘n spoed van 30 km/u. Wanneer dit oopgemaak is vou dit netjies weg bo-op die kattebakdeksel. Wanneer daar nie iemand op die agterste sitplek sit nie, is daar ‘n skerm wat uitgevou kan word wat die wind tot ‘n mate afkeer. Die materiaal wat vir die afslaandak gebruik word, is sag en alhoewel die raamwerk daarvan deur die seil uitdruk, is dit nie onooglik nie.

Om bagasie te laai word die kattebak se deksel op die tradisionele manier oopgemaak. Met ander woorde van bo na onder. Om die laaiproses te vergemaklik is daar hefbome in die kattebak gemonteer wat getrek kan word en dan kan ‘n gedeelte van die bakwerk opgeswaai word om die laaiproses te vergemaklik.

Die luuksheid verskaf deur die vervaardiger BMW, is duidelik sigbaar en wanneer die John Cooper Works (JWC) leerbedekte sitplekke, stuurwiel met beheerskakelaars en leerbedekking by die rathefboom, geïnstalleer is, rond dit die prentjie verder af. Al die normale toerusting is teenwoordig en die radio is van hoogstaande gehalte.

Padgedrag is uit die boonste rakke. Dit is ‘n kenmerk van die vroegste tyd af ,maar met BMW wat dit vervaardig is dit nog verder verbeter. Op die pad is die reaksies vinnig en gemaklik. Dit pas in ‘n klein parkeerruimte in en is baie beweeglik.

Die kragbron is ‘n 1500 kub. sentimeter, drie silinder inlyn, turbo aangejaagde, petrolenjin en dit ontwikkel 100 kW teen 4000 o.p.m. en die wringkrag van 220 Nm is beskikbaar vanaf 1250 o.p.m. Volgens die vervaardiger is dit in staat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 8,7 sekondes en dit is in staat om ‘n maksimum snelheid van 206 km/u. te bereik. Die brandstofverbruik is volgens die vervaardiger 7,2 l/100 km.

Dames en die manne wat hou van die “wind in die hare” gevoel kan gerus hulle naaste handelaar gaan besoek en hierdie opwindende motor neem vir ‘n toetsrit.