Merkel gebruik belastingkorting as geelwortel

Bondskanselier Angela Merkel se Christen Demokratiese Unie (CDU) het met die vertrek in haar veldtog vir die 2017 verkiesing, die enigste oorblywende uitweg gekies om haar verlore steun te probeer herwin.

Sy gaan belastingkortings aan die kiesers “uitdeel;” in die hoop dat hulle sal wegbreek van die regse Alternatief vir Duitsland (AFD).

Een van die Duitse regeringsgesinde koerante beweer dat sy nie net belastingtoegewings gaan maak nie, maar ook die tradisionele familiestrukture is op die tafel om aangewend te word.

’n Beeld van Duitse familiebande, belastingvermindering en tuisland sekuriteite is hoog op die CDU se sakelys om die verkiesingsveldtog mee te begin.

Alhoewel die oorgrote meerderheid van die Duitse kiesers glo dat Merkel vir ’n volgende termyn sal regeer, is daar ook ’n bekommernis dat die koalisievennoot nie meer so gedienstig sal bly as wat tot hede die geval is nie.

Die koalisievennoot, wat hoofsaaklik in die deelstaat Bavaria gesetel is, het tydens ’n onlangse vergadering dit sterk oorweeg om nie saam met die CDU die verkiesing te veg nie, maar wel op eie stoom.

Die kanselier is bewus daarvan dat die Alternatief vir Duitsland die migrasiekaart  sal speel in die verkiesing, en daarom sal belastingtoegewings die enigste teenmiddel kan wees vir die 94 miljard euro wat aan migrante uitgegee gaan word in die volgende vyf jaar.