Melkprys moet styg om bedryf te red

Die melkboer benodig ’n billike prysverhoging van sy produk om ’n totale ineenstorting van die suiwelbedryf te voorkom.

Die opmerking is gemaak deur ’n bekende en toonaangewende suiwelboer wat beweer dat die droogte, wat steeds menige boer knel, dit moeilik maak om winsgewend te bly.

Die Melkprodusente Organisasie (MPO) is dieselfde mening toegedaan en sê die vermoë om te produseer kan belemmer word met die droogte wat voortduur en derhalwe die boere dwing om voer in te koop teen onbekostigbare pryse.

Met die prys wat die boer ontvang vir sy produk, raak dit onmoontlik om met ’n klein wins te boer, veral as in ag geneem word dat die boer nou 7% minder ontvang vir melk as ’n jaar gelede.

Intussen word die rakprys van melk en ander suiwelprodukte soos kaas, botter en jogurt onbekostigbaar.

Verbruikers het reeds my monde van organisasies te kenne gegee dat minder suiwel gekoop word weens die stygende pryse daarvan.