Meer werk dalk in landbou

Indiensneming in die landbousektor van 876 000 mense het volgens Statistieke SA in die eerste kwartaal met 2% verbeter, indien dit met die vorige kwartaal vergelyk word.

Ontleders in die landbousektor wys egter daarop dat seisoenale werkers ‘n invloed op hierdie indiensnemingsyfers kan hê. Desondanks is Agbiz van mening dat die sektor op ’n kwartaallikse basis verrassend goed gevaar het ten opsigte van indiensneming ten spyte van die voortslepende droogte.

Indien vanjaar met dieselfde tyd verlede jaar vergelyk word dan was daar ‘n 2% afname en beteken dit 15 000 minder mense wat in diens is, volgens Agbiz se ontleding van die jongste indiensnemingsyfers.

Die instansie wys daarop dat die primêre landbou 6% van die arbeidsmag in die land uitmaak, wat baie meer is as sektore soos die mynwese en bykans op dieselfde vlak as die vervoerbedryf is.

Die werkloosheidskoers het in die eerste kwartaal vanjaar tot sy hoogste vlak sedert 2008 gestyg en staan volgens Statistieke SA op 26,7%.

Dit is 2,2 persentasiepunte hoër as in die vierde kwartaal verlede jaar.

Die uitgebreide werkloosheidskoers (wat ontmoedigde werksoekers insluit) het met 2,5 persentasiepunte geklim tot 36,3% (vanaf 33,8%)

Dit bring mee dat Suid-Afrika tans 5,714 miljoen werkloses en nóg 2,449 miljoen ontmoedigde werksoekers het.