Meer swartes in rugby geëis

Belangrike rugbywedstryde gaan op enige manier moontlik ontwrig word indien die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nie voldoen aan sy eise nie, dreig die ANC-jeugliga.

Die insluiting van spesifiek swartes in rugbyspanne moet dringend bespoedig word, sê die organisasie wat met sowat ‘n honderd betogers by Saru se kantore in Plattekloof opgedaag het.

Die betogers het op ‘n stadium probeer om by Saru se kantore in te gaan, maar is deur die polisie gekeer en met ‘n skokgranaat teruggedryf.

Die groep betogers het by geleentheid ook uitgeroep: "Weg met die Springbok-embleem!"

Te midde van al die dreigement is ‘n memorandum deur die jeugliga aan Saru-bestuurslede oorhandig.