Man enigste ooggetuie van skietery

‘n Man van Sonneglans, Randburg sal ‘n verklaring by die polisie moet aflê nadat sy eggenote en ‘n dagloner dood is tydens ‘n skietery tussen hom en die werker.

Dieter Lubbe (39 jaar) se vrou, Louisa (40 jaar) is klaarblyklik in die kop getref toe sy uit die huis geloop het om te sien wat aangaan toe die skietgeveg losgebars het.

Die werker is na bewering deur Dieter Lubbe op ‘n straathoek opgelaai om ’n hekkie heel te maak.

Hy het egter ‘n vuurwapen uitgeruk toe hy by die egpaar se woning in Witdoringweg aangeland het. Lubbe het sy eie vuurwapen uitgehaal en uit selfverdediging op die aanvaller geskiet. Volgens ‘n buurvrou het sy agt tot nege skote gehoor en die plaaslike buurtwag ontbied.

Louisa was egter reeds dood toe paramedici kort daarna opgedaag het. Dieter is tydens die skietery in die skouer gewond terwyl die aanvaller is in die bolyf getref en later in ‘n hospitaal dood is.

Die egpaar se tweejarige seuntjie, Luan, was by sy kleuterskool ten tye van die voorval. Dieter se twee seuns, Gustav en Stefan, uit ‘n vorige huwelik was by hulle onderskeie skole.

Aanklagte van moord en poging tot moord word deur die polisie ondersoek.