Letaba gesluit oor luiperd

Die Letaba-dagbesoekersarea in die Krugerwildtuin is oor die naweek tot verdere kennisgewing tydelik gesluit omdat ‘n luiperd hom daar tuisgemaak het.

Die bestuur van die Wildtuin het besluit om eerder die area toe te maak omdat luiperdspore aandui dat hy daar ingetrek het. Boonop het hy die karkas van sy prooi in ‘n boom opgedra wat duidelik daarop dui dat hy die gebied vir homself afgebaken het.

‘n Luiperd is ‘n gebiedsgebonde dier en verdra geen betreding van sy gebied nie, en juis daarom is besluit om die dier ‘n paar dae kans te gee om self te verkas.

Die besluit volg kort nadat ‘n groot luiperdmannetjie ‘n seuntjie, Kellan Denny (6 jaar), in ‘n privaat natuurreservaat naby Hoedspruit bespring en sowat 30 meter ver gesleep het.

Sy pa, Justin, het die luiperd agterna gesit en sy gille het waarskynlik daartoe bygedra dat die dier Kellan gelos en padgegee het.

Kellan het na behoorlike mediese versorging by die huis aangesterk en is ‘n week na die aanval weer terug skool toe.