Ledige soldate kos R570 miljoen

Meer as 500 soldate moet hulle weer aanmeld vir werk nadat hulle spesiale verlof van bykans sewe jaar belastingbetalers sowat R570 miljoen gekos het.

Te midde van alles wil dit voorkom asof die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag steeds nie regtig weet wat om met hulle te doen nie.

Die geskorste soldate het in Augustus 2009 aan ‘n onwettige betoging by die Uniegebou deelgeneem wat in gewelddadigheid ontaard het. Hulle is sedertdien op spesiale verlof geplaas en is die afgelope jare altesaam R7 miljoen per maand betaal. Nagenoeg R570 miljoen se belastinggeld is in hierdie tydperk spandeer.

Die hoof van die Weermag, Solly Shoke, het gesê die besluit is geneem omdat hy moeg is om die troepe te betaal terwyl hulle ledig by die huis sit.

Die soldate het indertyd opgeruk na die Uniegebou om as lede van Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag Unie (Sanwu) aan te dring op ‘n 30% salarisverhoging. Die onwettige betoging het egter gewelddadig geraak en in algehele chaos ontaard.

Die Weermag kon weens onbeholpenheid in al die jare nie hond haaraf maak om van die soldate ontslae te raak nie en het telkens tweede gekom in ‘n regstryd met die Sanwu .

Sanwu het die nuus verwelkom dat meer as 500 van sy lede weer vir diens moet aanmeld.