Kroonstad se waterkrisis vererger

Die waterkrisis op Kroonstad sal Vrydag bespreek word wanneer die munisipale bestuurder en verskeie rolspelers vergader.

Die Bloemhoekdam, wat water aan Kroonstad verskaf, is nou minder as 1% vol.

Intussen gons dit op ‘n plaaslike dorpskoerant se bakkiesblad oor die waterkrisis en die voorgenome Bokkieweek wat in die eerste week van Julie in Kroonstad aangebied word.

Uiteenlopende opinies oor die aanbieding van die Bokkieweek te midde van ‘n waterkrisis bestaan onder die inwoners.

Al die munisipale stopkrane gaan van 4 tot 8 Julie by skole en verblyfsplekke toegedraai word, het die Bokkieweek-organiseerders gesê.

Alle water gaan vir die Bokkieweek aangery word en daar sal selfs ook water vir die inwoners aangery en gratis verskaf word.

Die president van die Noord-Vrystaatse Bokkieweek unie, Peter Marich, is baie optimisties en sê met die nodige beplanning kan die verrigtinge steeds voortgaan.

“Ons is positief dat die aanbieding van die Bokkieweek aan die land sal bewys dat ons kan saamstaan en struikelblokke soos die waterkrisis kan oorkom,” het hy opgemerk.

Foto – Die Bloemhoekdam buite Kroonstad