Kla Zuma, Mbeki en Maharaj aan van moord

Oud-president Thabo Mbeki, president Jacob Zuma en Mac Maharaj moet van moord aangekla word vir hul aandeel in die Kerkstraatbom in 1983, aldus die voormalige kommissaris van polisie, generaal Johan van der Merwe.

Hy het tydens die herdenking van diegene wat omgekom en beseer is tydens die Kerkstraatbomontploffing gesê diegene wat getuienis tydens die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie gelewer het, kan help om die drie te laat boet.

Negentien mense is dood en nagenoeg 217 mense is beseer tydens die ontploffing op 20
Mei 1983.

Ondanks die feit dat lede van die polisie, veiligheidsmage en regering destyds aangekla is, is geeneen van hulle aangekla nie. Almal van hulle is in terme van die wet skuldig aan moord, het hy gesê.

Generaal Van der Merwe het aan die hand van die getuienis van die MK-lid, Aboobaker Ismail, vertel dat hy dit beskryf het as “niks anders as ‘n daad van terrorisme”.

“Diegene wat amnestie gekry het, moet verplig word om teen hulle te getuig. Daar is meer as genoeg getuienis beskikbaar om hulle aan te kla. Daar was op geen stadium enige aanduiding dat die Nasionale Vervolgingsgesag met sodanige vervolging sou voortgaan nie,” het Van der Merwe bygevoeg.

Die besluit om nie die drie te vervolg nie, is volgens Van der Merwe in skrille kontras met die grondwet wat voorsiening maak vir gelykheid voor die wet.

Foto – Kerkstraat na die bomontploffing op 20 Mei 1983