Kinders klim 800 m krans vir skool

In die dorpie Atuler, in die suidwestelike deel van Sjina, moet skoolgaande kinders ’n lewensgevaarlike tog van 800 meter afwaarts teen ’n krans aanpak om by hulle skool te kom.

Elke twee weke, wanneer die kinders tuis kom van hulle verblyf by die skoolterrein, klim die kinders met lere wat van bamboes gemaak is op teen die gevaarlike kranse na die dorpie waar hulle woon.

Die kinders, tussen die ouderdom van 6 en 15 jaar, moet elke twee weke eers terug na hulle tuistes om etlike dae later weer die afwaartse tog aan te pak, terug skool toe.

Die inwoners van die dorpie sê die leer is byna net so oud soos die dorpie, maar hulle sal die leer vervang as dit later nodig word.

Die gevaarlike tog wat klein kindertjies moet aanpak, het nou glo vir die eerste keer onder die owerheid se aandag gekom, wat nou ondersoeke doen.

Inwoners sê dit neem sowat 2 ure vir die span kinders om tot bo te klim, en sowat 90 minute om af te klim.

Die inwoners van die dorpie is deel van die Yi-volk, ’n etniese minderheid in Sjina waarvan die meeste in eenvoudige huisies van modder woon.

Oor al die jare het agt mense na hulle dood geval by die leer, maar almal is gewoond daaraan om teen die leer op en af te klim,  soos wanneer  hulle iets na die winkels wil neem om te verkoop, soos groente wat hulle op klein skaal verbou.

Foto – Kinders klim met die bamboesleer