Kia Soul 1.6 CRDi Smart DCT

Die Kia Soul is al vir ‘n hele aantal jare ‘n bekende gesig op die land se paaie. Sommige mense hou nie daarvan nie, terwyl andere weer verkies om die eienaar van ‘n Soul te wees.

Die hoekige vorm herinner ‘n mens aan ‘n “boksie,” maar die voordeel van so vorm is dat daar heelwat pakplek is en dus ideaal is vir ‘n ouer om sy kinders na en van die skool of sportbyeenkomste te vervoer. Nie alle sportnutsvoertuie lyk dieselfde nie, maar uiteindik is hierdie ‘n praktiese voertuig wat doelmatig aangewend kan word. Wat dit ‘n aantreklike voertuig maak, is die groot vensters. Dit gee ‘n mens goeie uitsig na buite en dit is veral gerieflik in die stad of dorp wanneer die verkeer druk raak.

Die groot deure verseker maklike toegang tot die voertuig en die sitplekke is gerieflik met die belangrikste instrumente soos die toereteller en spoedmeter is direk voor die bestuurder gemonteer en duidelik leesbaar deur die speke van die stuurwiel. Die bestuurder se sitplekke is elektries verstelbaar en verleen genoegsame steun vir die bestuurder se dye en bene. Wanneer die agterste sitplekke plat gevou word, is daar aansienlik meer pakplek. In die normale posisie is daar baie beenspasie vir die agterste passasiers. Drie passasiers kan met gemak langs mekaar inpas op die agterste sitplek en daar is meer as genoeg kopspasie. Daar is voorsiening gemaak vir aansienlik baie pakplek bywyse van die paneelkissie en ook in die middel konsole.

Die kragbron van die topmodel in die reeks is ‘n vier silinder turbodiesel. Dit is ‘n aansienlike verbetering op die vorige model in die sin dat die krag verhoog is van 94 kW na 100 kW en die wringkrag is op 260 Nm na 300 Nm. Wat ‘n groot verbetering te weegbring is dat die sesspoed ratkas vervang is met ‘n dubbelkoppelaar, sewespoed ratkas. Wanneer vinnige reaksie benodig word om ‘n ander voertuig verby te steek kan die ratkieshefboom met die hand getrek word na ‘n laer rat. Volgens die vervaardiger neem dit 11.1 sekondes om van 0 tot 100 km/u te versnel en die topsnelheid is in die omgewing van 182 km/u. Die brandstofverbruik is volgens die vervaardiger 6,8l/100 km en die brandstofhouer neem 54 liter. Die bagasieruimte kan van 354 liter vergroot word na 1388 liter wanneer die 60:40 verhouding sitplekleunings plat gevou word.

Aan die voorkant in die middel van die neusgedeelte is die bekende Kia-kenteken met die hoofligte aan weerskante daarvan.  Die kolligte is deel van die sierrooster en die byekorf luginlate laat die lug vir verkoeling in na die verkoeler en enjin.

Wat ‘n mens eintlik kry in hierdie voertuig is genoeg van alles. Genoeg pakplek, genoeg sitplek, genoeg beweegruimte en die brandstofverbruik is goed genoeg. Dit word aanbeveel dat moeders wat ‘n voertuig benodig om die kinders mee te vervoer, die naaste Kia-handelaar gaan besoek en u vergewis van wat die voertuig aanbied.