Kernkrag dryf dalk korrupsie in ANC

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Kernreguleerder sal na verwagting eers teen 2018 ‘n besluit finaliseer omtrent Eskom se lisensie-aansoek vir twee nuwe bouterreine.

Eskom het in Maart aansoek gedoen vir die lisensies om nuwe kernkragaanlegte te bou.

Die terreine waarvoor Eskom aansoek gedoen het, is Thyspunt in die Oos-Kaap en Duynefontein in die Wes-Kaap.

Dit sal deel vorm van altesaam ses kernkragaanlegte en groot kommer bestaan oor die koste daarvan, wat enigiets van R400 miljard tot R1 triljoen sal wees.

Hierbenewens is omgewingskenners en -aktiviste baie begaan oor die impak van kernkragaanlegte op die omgewing.

Kundiges oor kernenergie verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, proff. Trevor Gaunt en Anton Eberhard, het hulle onlangs uitgespreek oor die vermeende korrupsie in die kernkragprogram. Daar is verwys na die sprake dat die betrokke program een van die hoofaandrywers van korrupsie in die ANC kan wees.

Die media is ook betrek in die gesprek waarin aangevoer is dat ernstige kommer bestaan oor Russiese befondsing vir partyverkiesings in Suid-Afrika.

Bewerings van korrupsie en geheimsinnigheid is trouens ‘n bron van kommer sedert Suid-Afrika in 2014 ‘n ooreenkoms met Rusland aangegaan het.