Kenia sluit migrante-kampe

Die regering van Kenia het aangekondig dat hy al die migrante kampe in die land gaan sluit wat beteken dat sowat 600,000 kampbewoners se lot daardeur geraak sal word.

Kenia het die besluit geneem weens die swaar ekonomiese las wat op die land gelê word in ’n tyd wat dit weens die ernstige droogte, nie goed gaan op ekonomiese gebied nie.

Een van die kampe, Dadaab, wat huisvesting bied aan meer as 300,000 mese, is die grootste migrante-kamp in die wêreld, en gaan ook gesluit word.

Die sekretaris vir die minister van buitelandse sake, Karanja Kibicho, sê die besluit is geneem te midde van ’n moeilike droogtetyd, maar ook as gevolg van die invloed van die Al-Shabaab terroristegroep in die land.

Kenia sê die huisvesting van migrante in die land het ’n risiko geword en word nou finaal gestaak.

Die regering sê hulle is bewus daarvan dat die migrante in ’n onbenydenswaardige posisie geplaas word, maar kan dit nie verhoed nie.

Dit is nie duidelik wanneer die kampe gesluit gaan word nie, maar die land se departement van migrante sake is reeds ontbind.

Somaliese migrante leef nou in vrees vir aanvalle deur die Keniaanse soldate, terwyl baie duisende die tog terug na Somalië kan aanpak, om daar die slagoffer van terroriste te word.