Kelkiewyn blomme / Geissorhiza spledidissima

Hierdie is seker van die mooiste veldblomme in ons land. Dit staan eintlik bekend as die Blou trots van Nieuwoudtville en die blou-pers blomme doen die naam gestand. Kelkiewyne blom in die lente en is lid van die Iridaceae-familie. Dit is ‘n bedreigde spesie. Hulle groei in Noord-Kaap en die Bokkeveldberge.

Kelkiewyne groei uit ‘n klein geharde knol wat so groot soos ‘n grondboontjie is. Dit is ‘n wintergroeiende spesie en die nuwe blare verskyn in die laatherfs. Kelkiewyn se blomme verskyn in die lente en dit is groot koppievormig en diepblou tot pers en het tot donkerpers en ligtegroen harte. Dit het drie opvallende helmknoppe met rooibruin stuifmeel.

Die saad word in die vroegsomer versprei. Om saad te kry, knyp die helmknoppe liggies tussen die duim en voorvinger wanneer die stuifmeel los en ryp is, en vryf dit liggies oor die stempels van ‘n ander plant. Saadkapsules word binne ses weke ryp. Wanneer die blare begin bruin word, moet die plante nie meer natgemaak word tot die volgende herfs nie.

Die blare is swaar en gerib en grasagtig. Die nuwe blare verskyn in die laatherfs en groei deur die wintermaande.

Plant kelkiewyne in sanderige grond. Dit is egter delikate plante wat van droogte in die somer hou. Saai die saad in die laatherfs sodra die nagtemperature afgekoel het. Ontkieming vind binne 6 weke plaas. Plant die plante in volson uit. Hierdie blomplante verkies ‘n gedeelte growwe riviersand en fyn gesifte gemaalde bas met ‘n komposlaag van 2 cm wat onder in die bedding gestrooi word. Plant die knolle 10 mm diep met die gepunte kante na bo. Gee aanvanklik genoeg water in die middle van April. Sodra die blare verskyn, is dit raadsaam om dit ongeveer twee maal per week diep nat te maak tot die lente wanneer dit meer gereeld water moet kry. Die groeimedium moet klam bly gedurende die blomtyd.

Tuiniers, hierdie plante sal u net by sentrums vir skaarsplante vind. Daar is ook net beperkte hoeveelhede saad te koop by uitgesoekte tuinwinkels in die Kaap.

Geniet u tuin en plant sommer nog groot hoeveelhede bolle vir die lente.