Jong Emily Hobhouse vereer na 90 jaar Boere-heldin

’n Jong meisiekind met die gelaatstrekke van haar naamgenoot, Emily Hobhouse, het in die voetspore van die geëerde Boere-heldin in Suid-Afrika kom loop.

Die 19-jarige Emily Hobhouse het 90 jaar na die oorlye van haar groot-groot tante spesiaal uit Bath, Engeland gekom om te sien watter rol haar familielid in Suid-Afrika gespeel het.

Sy het haar besoek aan die Oorlogsmuseum as ‘n emosionele reis beskryf om te beleef watter belangrike rol Hobhouse in die Afrikaner-geskiedenis gespeel het.

Hobhouse (jr.) het gesê dit is hartverskeurend om te sien hoe ‘n volk vernietig is, maar dat die wyse waarop die Afrikaners na die Tweede Vryheidsoorlog opgestaan het, indrukwekkend is.

Die wyse waarop mense reageer wanneer hulle hoor sy is familie van Emily Hobhouse, het haar diep geraak.

Hobhouse (jr.) meen dat mense in Engeland nie regtig weet wie haar groot-groot tante was nie, en dit was eers nadat sy begin navorsing doen het oor haar naamgenoot dat sy besluit het sy wil soos sy wees. Sy wil ook goed wees vir ander mense.

Sy meen daar is ‘n rede waarom haar pa haar na die Boere-heldin vernoem het.

Verskeie organisasies het die afgelope naweek tydens ’n seremonie kranse by die Burgermonument neergelê. Hobhouse, het ook self ‘n krans by die monument gelê.

Sy wil nog verskeie plekke besoek, waaronder konsentrasiekampe in die Vrystaat en sou graag nog baie ander gedenkwaardighede wou sien voordat sy na Engeland terugkeer.

Robert Eales, ’n gebore Suid-Afrikaner wat in Australië woon, het sy boek, The Compassionate Englishwoman: Emily Hobhouse in the Boer War, in Suid-Afrika bekend gestel.