Jong Emily Hobhouse diep getref deur konsentrasiekamp

Die gestorwenes van die konsentrasiekampe moet onthou en vereer word, het ‘n jong Emily Hobhouse, gesê nadat sy besoek afgelê het by die Springfontein konsentrasiekamp in die Oranje-Vrystaat.

Dié jong meisie, wat ‘n naamgenoot van haar groot-groot tante is, was verstom oor hoeveel mense in die kamp omgekom het, en het diep onder die indruk daarvan gesê dat daar so baie name is, en dit is maar net in een kamp.

Ná die besoek kon sy haar vereenselwig met die Afrikanervolk omdat sy gesien het waardeur hulle is en hoe swaar hulle tydens die Tweede Vryheidsoorlog gekry het, het sy gesê.

Die jong Emily (19 jaar) het die afgelope naweek teenwoordig by ‘n kranslegging by die Burgermonument, waarna ‘n Bittereindergedenklesing gehou is deur Vriende van die Oorlogsmuseum. Sy het ook die Vrouemonument besoek, waar die as van haar groot-groot tante in ‘n nissie rus, en het ook deur die Oorlogsmuseum gestap.

Volgens haar is een van die eerste dinge wat sy aan haar familie in Bath, Engeland gaan vertel, is om self na Suid-Afrika te kom.

Om die nalatenskap van Emily Hobhouse (sr.) en die geskiedenis te verstaan, is belangrik, het sy opgemerk. En daarvoor moet mens self na Suid-Afrika toe kom.

Sy het voorts benadruk dat dit belangrik is om self die konsentrasiekampe te besoek om te sien wie en hoeveel mense daar omgekom het.

Emily (jr.) se gelaatstrekke is onmiskenbaar dié van haar naamgenoot, en sy was verras oor mense se reaksie wanneer hulle verneem van die familieverwantskap.

‘n Straat in Springfontein is ook na Emily Hobhouse vernoem om haar nagedagtenis te eer.