Japan verbeter verhouding met Moskou

Terwyl die VSA pleidooie lewer vir groter sanksies teen Rusland, is sy eie vennote besig om sterker bande te bewerkstellig met Moskou.

Amerika se sterkste bondgenoot in die Stille Oseaan gebied is Japan, wat onlangs ’n besoek gebring het aan Moskou om die verhouding tussen die twee lande te versterk.

Die Japannese eerste minister, Shinzo Abe, se besoek aan Rusland waartydens hy samesprekings gevoer het met president Vladimir Poetin, het opspraak verwek in Washington nadat die twee leiers bevestig het dat hulle nouer samewerking gaan bewerkstellig.

Die nuwe wending volg kort op die aankondiging deur die leiers van die regse politieke party, “Alternatief vir Duitsland”, dat ’n afvaardiging van die party se Jeugbeweging na Rusland is en onder meer deur president Poetin te woord gestaan is.

Kort daarna het die Bondskanselier Angela Merkel geluide gemaak dat beter verhoudinge met Rusland beoog word.

In ’n proses om Rusland se verhouding met Japan te verongeluk, het kanselier Merkel ’n aanbod aan Japan gemaak om by NAVO aan te sluit, wat egter van die hand gewys is.

Die diplomatieke verandering deur Japan se verhouding met Rusland word as insiggewend en van besondere belang in die magsewewig gesien.

Kenners sê die skuif van Japan is ’n aangeleentheid wat nie voorsien is nie, en wat daarop dui dat Rusland se invloed aansienlik groter is as wat aanvanklik vermoed was.

Foto – Premier Abe en pres. Poetin