Jansen hét onder politieke druk geswig

Daar is wél voor politieke druk geswig toe die Universiteit van die Oranje-Vrystaat Afrikaans as onderrigtaal uitgefaseer het, luidens ‘n hofverklaring in ‘n hofgeding oor die taalstryd by die instelling in die Vrystaatse hoofgeregshof.

Die rektor van die UV, Jonathan Jansen, het volgens die hofstuk in ‘n debat van die instelling se senaat oor die nuwe taalbeleid erken dat hy geswig het onder die druk van groepe wat op die kampus onder die vaandel: “Afrikaans Must Fall” amok gemaak het.

Só het uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Paul Colditz, in sy hofverklaring ‘n uiteensetting gegee van wat hy beskryf het as: die universiteit se besluitnemers se “ongepaste haas om voor politieke druk te swig” en in die proses “geweier het om die grondwetlikheid van hul besluit te oorweeg.”

Colditz het voorts daarop gewys dat Engels die moedertaal van net 14% van die studente aan die UV is, en Afrikaans die moedertaal van die meeste is.

Colditz het ’n verklaring afgelê namens Fedsas, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en die Afrikaanse Taalraad wat as vriende van die hof toegetree het in die hofstryd.

‘n Afrikaanse vakbond en sy burgerregte arm wil hê die nuwe taalbeleid van Engels as primêre taal van onderrig en administrasie aan die UV moet tersyde gestel word.

Foto – Jonathan Jansen