Jaguar XF 2,0D Prestige

Die nuutste model Jaguar XF is gegrondves op die suksesverhaal van die XE. Op die oog af is die verskille nie baie groot nie, maar wanneer dit van naderby bekyk word dan besef ‘n mens dat daar inderdaad heelwat verskille bestaan.

Dit is op die verlengde onderstel van die XE gebou en die wiele is na die verste moontlike hoeke van die bakwerk geskuif. Dit het tot gevolg dat daar beter padgedrag bestaan en die rygerief is beter. Deur dit te doen is die binneruimte vergroot en is daar beter gemak beskikbaar. Die hoër gegradeerde modelle, die R-sport en die S-model het interessanter afwerking. Byvoorbeeld die aanraak skerm reageer beter as die vorige model en is makliker om mee te werk.

Volgens die vervaardiger is dit 190 kilogram ligter en dit bring ook beter reaksie op die padgedrag na vore. Teen lae snelhede is die rit ferm, maar wanneer die snelheid verhoog word vir ‘n rit op die snelweg, is dit geriefliker.

Die 2,0 liter Ingenium turbodiesel vier silinder kragbron wat gepas is, is ‘n heel nuwe ontwikkeling en dit verskaf 132 kW krag en die wringkrag is 430 Nm. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik slegs 4,3l/100 km en die diensperiode is elke 34,000 km of elke 2 jaar. ‘n ZF, agtspoed  outomatiese ratkas word gebruik en die oorskakeling vind so glad plaas dat dit bykans onmoontlik is om dit agter te kom. Na verneem word, neem die versnelling van 0 tot 100 km/uur 8,1 sekondes en die topsnelheid is 229 km/uur.

Om tred te hou met nuwe tegnologie word daar gebruik gemaak van ‘n hoë gehalte snelheidsbeheerstelsel en nog talle ander handige funksies. In vergelyking met vorige modelle is die tradisionele Jaguar-gerief nog steeds teenwoordig.

Die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar en dit is dus moontlik om ‘n gemaklike sitposisie in te neem. Die leerbekleedsel van die sitplekke sorg dat een van die kenmerke van ‘n Jaguar, naamlik luuksheid, staande bly.

Op die stuurwiel is daar verskillende skakelaars wat sorg dat verskeie funksies gekies kan word en die instrumente is duidelik leesbaar deur die speke van die stuurwiel. Die bekende “Jaguar-embleem” staan duidelik uit op die middelste gedeelte van die stuurwiel.

Allooiwiele en die sierlike buitelyne van die motor rond die algemene prentjie netjies af. Die sierrooster met die “Jaguar-embleem” sorg dat daar geen twyfel bestaan dat hierdie motor deel vorm van die “aristokrasie” van die motorwêreld wat uit vroeë dae dateer. Aan die agterkant vloei die ligte om die kant van die motor en is die motor duidelik sigbaar van agter en ook van die kant af.

Die aankoopprys van die motor begin by R714,800 vir die 2,0D Prestige en eindig in die omgewing van R1,178,800 vir die 3,0 S model. Daar is Jaguar handelaars regoor die land en u kan gerus u naaste Jaguar handelaar gaan besoek en u vergewis van hierdie motor se uitsonderlike eienskappe.