Jagseisoen teen Gordhan weer oop

Ondanks amptelike verklarings dat die finansminister, Pravin Gordhan, veilig is en nie binnekort aangekeer gaan word nie, is die spioenasie-ondersoek teen hom skielik weer hervat.

Die saak teen hom is volgens mediabronne heropen en amptelik na die polisie se misdaadintelligensie-eenheid oorgedra.

Dit volg nadat president Jacob Zuma, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke, wat Gordhan aanvanklik ondersoek het, almal in afsonderlike verklarings gesê het hy is veilig en nie binnekort in hegtenis geneem sal word nie.

‘n Groot storm is ontketen toe daar onlangs in die media berig is die Valke is gereed om die minister en ander voormalige amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in hegtenis te neem weens hul beweerde rol in die totstandkoming van ’n sogenaamde onwettige spioenasie-eenheid by SAID.

Daar is intussen deur ekonome gewaarsku dat daar dalk net te veel verwag word van Gordhan as finansminister, veral as daar gekyk word na hoe power Suid-Afrika eintlik ekonomies gedurende sy vorige ampstermyn in dieselfde pos gevaar het.

Boonop moet onthou word dat Gordhan ‘n geskiedenis as kommunis het wat selde of ooit as ideologie goed vaar wanneer dit by ekonomie kom.