Internasionale vereistes vang SA produsente onkant

Die Suid-Afrikaanse vrugteboere en uitvoerders daarvan het nou net ’n maand tyd om aan te pas by die nuwe internasionale vereistes ten opsigte van die inweeg van vragte in verskepingshouers.

Die vereistes wat in werking tree op 1 Julie vanjaar en is aan die begin van verlede jaar ontwikkel nadat die Internasionale Seevaart Organisasie wysigings aangebring het bekend as die “Safety of Life at Sea Convention”.

Die skeepshouers moet nou ’n geverifieerde gewig hê alvorens dit op ’n skip gelaai sal word wat uitvoergoedere bevat.

Die uitvoerder is verantwoordelik vir die verifiëring van die houer se gewig en indien dit nie beskikbaar is nie, kan die houer nie gelaai word nie.

Volgens ’n woordvoerder van die Sitrus vereniging, het die vrugtebedryf minstens 18 maande nodig om die nuwe regulasies in werking te stel.

Die eerste amptelike kennisgewing wat in Suid-Afrika gesirkuleer het, is in Junie verlede jaar ontvang met algemene riglyne wat eers in Januarie vanjaar beskikbaar was.

Die gewig moet glo bepaal word deur ’n houer op ’n vragmotor te plaas en by ’n erkende weegbrug geweeg word, maar kenners meen dit kan groot bottelnek probleme laat ontstaan omdat voldoende weegbrûe nie beskikbaar is nie.

Nuwe weegtoerusting sal egter baie gou opgestel moet word, wat nog deur deskundiges gekalibreer moet word en geakkrediteer sal word by ’n erkende laboratorium.

Daarna sal elke nuwe weegbrug onderwerp word aan ’n oudit om die weegproses se korrektheid te bepaal.

Intussen kan die vrugtebedryf ’n nekslag kry as sy produkte gereed is om uitgevoer te word, terwyl die toerusting nie in plek is nie.