Internasionale kundiges oor kernkrag besoek SA

‘n Afvaardiging van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) het onlangs besoek by die Noordwes-Universiteit (NWU) afgelê.

Die groep is ook vergesel deur verteenwoordigers van Suid-Afrika se departement van energie, die Nasionale Kernreguleerder (NKR) en die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (SAKEK).

Die direkteur-generaal van die IAEA, Yukiya Amano, het tydens die geleentheid ‘n openbare lesing gehou, getiteld: “Atoms for peace in the 21st Century”.

Hy het die agentskap se werk toegelig met die verduideliking: “Ons werk het ʼn beduidende impak op die beskikbaarstelling van kernwetenskap en -tegnologie vir elektrisiteitsopwekking, die verbetering van menslike en dieregesondheid, en die verhoging van voedselproduksie.”

Hy het gesê dat hulle groot waarde heg aan hul samewerking met Suid-Afrika en dat dié land – deur sy aktiewe deelname aan die werk van die IAEA – ʼn belangrike rolspeler is.

Mnr. Amano het benadruk dat dit elke land se eie besluit is of hy van kernkrag wil gebruik maak; die IAEA wend geen poging aan om lande se besluite te beïnvloed nie.

Verskeie kernnavorsings- en -ontwikkelingsprogramme is aan die gang in ‘n verskeidenheid akademiese afdelings van die NWU.

Foto – Koeberg-kernkragstasie