"Hulle wil die witmense hê"

’n Eedsverklaring van ‘n swartman oor die hoewe-aanvalle en -moorde by Brits, waarin hy meld die misdadigers het aan hom gesê: “hulle wil die witmense hê,” bevestig die vermoedens oor die politieke motiewe van hierdie tipe misdaad.

John Dumisani Shabangu het die verklaring in Mei 2014 afgelê nadat hy glo oorval is op sy werkgewer se hoewe by Kareepoort, Brits,

Die staat het die verklaring ingedien in die verhoor van Knowledge Thabo Mandlazi en John Moses Tivane (van Mosambiek) wat van Maart tot Junie 2014 ‘n skrikbewind op die hoewes in die Brits-omgewing gevoer het.

Hulle het vroeër skuld ontken op vyf aanklagte van moord en vyf van poging tot moord.

Shabangu, wat intussen glo dood is aan ‘n onverwante oorsaak, het getuig hoe die twee verdagtes hom oorval het, maar hom uiteindelik meegedeel het: “Hulle was nie na my op soek nie. Hulle wil die wit mense hê.”

Die vriendin van wyle Joshua Joubert, Ella Ehlers, het getuig oor die aanval op ‘n hoewe by Mamogalieskraal, Brits.

Joubert is tydens die rooftog in die bors en buik geskiet. Die beskuldigdes het glo ook probeer om ‘n familielid van hom, Josias Johannes Jacobus van der Schyff, dood te maak.

Vier van die vermoordes is: Leander Dercksen van Soutpansdrift, Danie Dercksen van Geluk, Louis van Wyk van Kareepoort en Joshua Johannes Jacobus Joubert van Mamogalieskraal.