Hoe het Guptas geld uit SA gekry?

Politici eis dat daar moet ondersoek ingestel word na Suid-Afrika se fiskus om vas te stel hoe die Guptas daarin kon slaag om geld uit die land te neem om hul luukse woning en leefstyl in Dubai te kan bekostig.

Die oproep volg nadat lede van die Gupta-familie ‘n villa ter waarde van R445 miljoen in een van duurste woonbuurte in Dubai betrek het omdat sake te warm vir hulle in Suid-Afrika geword het.

Die villa het 10 slaapkamers, 13 badkamers, nege onthaalvertrekke en parkering vir 11 voertuie. Dit is met marmer en goud versier en het ‘n handgeverfde koepel.

Twee van die Gupta-broers, Ajay en Atul, het verlede maand Suid-Afrika saam met lede van hulle gesinne verlaat nadat hulle bedank het by Oakbay Investments en Oakbay Resources and Energy.

Mediaberigte oor die beweerde beïnvloeding van president Jacob Zuma deur die Guptas om bepaalde politici aan te stel, het al hoe meer opgeduik.

Sake het ook net te ongemaklik geword toe die vier groot Suid-Afrikaanse banke hulle bande met besighede wat aan die Guptas behoort, verbreek het.