Hewige gevegte woed teen IS terroriste

In die westelike streek van Irak, by die stad Fallujah, waar ’n bolwerk van terreurorganisasies saam met die Islamitiese Staat (IS) beheer uitoefen, bevind sowat 50,000 burgers hulle in ’n “uiterste noodtoestand”.

Sedert verlede Maandag is die stad in hewige gevegte gewikkel wat woed tussen die terroriste en die Irakse weermag.

Die weermag is vasbeslote om die stad te herower wat reeds geruime tyd onder terroriste se beheer is, en inwoners se belastinggeld en eiendom opeis, terwyl voedselvoorraad streng gerantsoeneer word.

Inwoners is sedert September verlede jaar verplig om met gedroogde dadels en vuil water uit die Eufraat aan die lewe te bly.

Mediese dienste het in duie gestort en die Verenigde Nasies beskryf die toestand as uiters haglik.

Die stad Fallujah in die noorde van Irak is die sterkste vesting van die IS, terwyl die weermag van Irak nie oor al die kundigheid beskik om die stryd te wen nie.

Die eerste minister van Irak, Haider Al-Abadi, sê die geveg sal voortduur tot die stad herower is, aangesien hulle reeds sukses gehad het met die herowering van Garma, ’n buurdorp wat ook deur IS beheer was.