Griekeland, staat van mislukkings

Terwyl die regering van Griekeland daarin geslaag het om bykans al die vereistes van die Europese Unie (EU) na te kom met hervormings in die land, het die kiesers van die land begin met massabetogings.

Die Europese Kommissie se president, Jean-Claude Juncker, het in ’n media onderhoud gesê die lidlande van die EU is nou bereid om te kyk na beter betalingsvoorwaardes vir Griekeland om sy swaar skuldlas af te los.

Griekeland is vroeër gedruk om bepaalde ekonomiese hervormings in werking te stel alvorens beter terugbetalingsvoorwaardes opgestel kan word.

Verdere evaluasie van Griekeland se ekonomiese hervormings word in die vooruitsig gestel, te midde van massabetogings wat gevolg het weens die ekonomiese hervormings wat elke kieser se sak raak.

Mediese voordele, die verandering in die pensioenstelsel en belastingveranderings is alles deel van die kiesers se besware.

Die veranderings wat ingebring is, was deel van die skuldeisers se voorwaardes om Griekeland uitstel te gee en beter terugbetalingsvoorwaardes te bied.

Die vorige regering van Griekeland het die staat in die skuld gedompel en miljarde euro verkwis om kiesers se guns te hou, wat uiteindelik gelei het tot ’n algehele ekonomiese ineenstorting.

Europese ministers van finansies uit 19 lande is geskeduleer om in Brussel te vergader oor die haglike toestand in Griekeland, terwyl duisende kiesers in die land betoog oor die pensioenveranderings wat aangekondig is.

Gedurende die naweek het die Griekse Minister van Finansies, Efklidis Tsakalotos, ’n beroep gedoen op die EU lande om ’n nuwe € 5.4 miljard pakket saam te stel, en ook versoek dat die eis van skuldeisers vir ’n verdere € 3,6 miljard verwerp word.

Hy het die druk op die EU-lande verhoog met die waarskuwing dat Griekeland die “staat van mislukkings” kan word wat tot almal se nadeel sal strek.