Greep op grond wurg al hewiger

Die ANC-bestel is glad ‘n aanhanger van individuele besitreg deur blanke of swart Suid-Afrikaners nie, aldus John Kane-Berman van die Instituut vir Rasseverhoudinge.

Onteiende grond se titelaktes is die afgelope jare nie van blanke boere na swartes oorgedra nie, maar van blanke boere na die staat toe, het hy in ‘n verklaring benadruk.

Hy het verwys na die wetgewing wat verlede week deur die nasionale vergadering aanvaar is ingevolge waarvan die onteieningsmagte van die staat uitgebrei sal word.

Nog wetgewing wat in die pyplyn is, is die beperking van plaasgroottes om klaarblyklik meer grond beskikbaar te stel vir swart boere kragtens ‘n pagstelsel.

Iets wat ook een of ander tyd in die vooruitsig gestel word, is wetgewing waarvolgens die staat die voog van alle landbougrond sal wees en waarvoor lisensies om op te boer uitgereik sal word, sê hy.

Dit sal blanke boere se grondregte beperk, sonder dat dit aan swartes die regte sal oordra wat blanke boere voorheen gehad het. In stede daarvan sal meer en meer grond deur die staat bekom word en sal blanke en swart boere toenemend aan die wispelturigheid optrede van die regering onderwerp word, aldus Kane-Berman.