Graafmoord ruk Thabazimbi

Thabazimbi se inwoners is geruk deur “nog ‘n sinnelose plaasmoord” toe ‘n plaasbestuurder van die omgewing dood is weens die ernstige wonde wat hy opgedoen het tydens ‘n aanranding met ‘n graaf.

 

Die 66-jarige mnr. Fritz van der Westhuizen is herhaaldelik met ‘n graaf teen sy kop en lyf geslaan. Hy het oor die naweek ondersoek gaan instel toe hy ‘n vrou by die werkershuise op die plaas, Klein Engeland in die Cumberland-distrik buite Thabazimbi, hoor skreeu het. Die vrou en haar man was in ‘n bakleiery gewikkel toe Van der Westhuizen op hulle afgekom het.

 

Hy is toe aangeval en het ernstige kopbeserings opgedoen. Aanvanklik is hy deur nooddienste na ‘n plaaslike hospitaal vervoer en is toe oorgeplaas na ‘n Pietersburgse hospitaal, waar hy vroeg vandeesweek aan sy wonde beswyk het.

 

Sy aanvaller het weggehardloop, maar is later deur die polisie in hegtenis geneem en sal eersdaags in die hof verskyn.

 

Dit is die soveelse plaasmoord in die Thabazimbi-omgewing en inwoners het op sosiale media daarop gereageer.