Gesamentlike aanvalle op IS beplan

Op aandrang van Rusland is samesprekings met die VSA gevoer oor die gesamentlike optrede teen die militante Islamitiese Staat (IS).

Die Russiese minister van buitelandse sake,  Sergei Lavrov, en sy Amerikaanse eweknie, John Kerry, het met nuwe voorstelle gekom oor wat gedoen moet word om die terroriste aan te val na aanleiding van die jongste voorvalle in Sirië.

Die VSA het tot op hede ’n negatiewe houding ingeslaan teenoor die Russe wat voorgestel het dat hulle gesamentlik optree teen die terroriste.

Die inhoud van die gesprek tussen die twee ministers is nie bekend gemaak nie, maar beide is bekommerd oor die feit dat 148 mense gedood en meer as 200 ernstig beseer is in die jongste aanvalle.

Die aanvalle is uitgevoer in die regering se sterkste vestings en was naby ’n belangrike vliegtuigbasis van Rusland.

Minstens vyf selfmoord aanvalle en twee motorbomme het op dieselfde dag ontplof en chaos in die gebied veroorsaak.

Rusland het intussen sy meegevoel betuig met die familie van die slagoffers en gesê die land is gereed om hernude aanvalle uit te voer op die terroriste, en is bereid om sy samewerking te gee.

Foto – Minister Sergei Lavrov en John Kerry