Geld op toere gemors

Ondanks die hewige kapsie oor die media se openbaarmaking van sogenaamde studietoere na die Turkse, Skotse en Britse parlemente deur Suid-Afrikaanse parlementêre administrateurs teen ‘n koste van R1,9 miljoen, sal die vergrype ook hoogs waarskynlik in presies dieselfde mandjie as Nkandla en die wapentransaksie beland.

 

Die toer van 10 dae na Londen en Edinburg het R1 miljoen gekos, terwyl ‘n besoek aan die Turkse wetgewer en vinnige oortog na Genéve belastingbetalers nagenoeg R900 000 gekos het.

 

Die geld is onder meer spandeer aan taxi’s, motors wat deur chauffeurs bestuur is, vyfster hotelle en kwistige etes.

 

Die aanbevelings wat na aanleiding van die vermeende studietoere gemaak is, lyk ook glad nie asof dit die geld werd is wat spandeer is nie. Die toere sou ook seker weinig lig kon werp op die hantering van die Unie van Onderwys-, Gesondheids- en Verwante Werkers (Nehawu) se lede se aandrang op prestasie bonusse vir hulle harde arbeid en die amok wat hulle maak tydens stakings in die parlement.