Geen politiek by Soweto-saamtrek

Daar gaan glo geen politiek gepraat word op die saamtrek in Soweto wat vir sogenaamde oorlogsveterane van Umkhonto we Sizwe (MK) en oud-soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag beplan word nie.

Op die betrokke dag op 11 Junie word ‘n massasaamtrek by die Orlando-stadion beoog waarby MK-‘veterane’ en oud-troepe saam met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) betrek sal word.

Volgens die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging en afgetrede kolonel, Jan Malan, sal daar geen verskoning gevra word of sogenaamd voete gewas word nie. Daar sal glo slegs “hulde gebring word aan almal wat omgekom het in die stryd om demokrasie in die land te bewerkstellig.”

Die byeenkoms is bedink deur eerwaarde Frank Chikane van die SARK en die voormalige algemene sekretaris van die NG Kerk, dr. Kobus Gerber. Die saamtrek se tema, “Sing ‘n nuwe lied (van versoening),” wat hulle bedink het, is glo gebaseer op ‘n proefskrif van ‘n weermagkapelaan van Bloemfontein, Pieter Bezuidenhout.

Tydens die verrigtinge op 11 Junie sal ‘n landsvlag by die stadion geplant word, en leerlinge van die agt Soweto-skole, wat deel was van die opstand, sal ‘n houtkruis na die stadion dra.

Die MK-‘veterane’ en oud-soldate van die SAW sal twee minute stilte hou.

Geen woord politiek sal tydens die geleentheid volgens Malan toegelaat word nie, dit kan glo op die amptelike herdenking op 16 Junie gedoen word.

Umkhonto we Sizwe (MK) was die militêre vleuel van die ANC en hierdie terroriste het talle terreurdade gepleeg waarin onder meer gewone burgerlikes omgekom en vermink is.