Geelkoors slaan toe in Afrika

Geelkoors het in Angola uitgebreek wat blitsvinnig uitgebrei het na die Demokratiese Republiek van die Kongo, asook na Uganda en Kenia.

Die inligting is vrygestel deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) van die Verenigde Nasies gedurende die afgelope naweek.

In die vrystelling word daarop gewys dat baie min mense in Afrika-lande moeite doen om hulle te laat immuniseer teen verskillende siektes en veral teen die gevaarlike geelkoors.

Die WGO se in sy verklaring dat die voorvalle in Angola beskou was as sporadiese gevalle en is geen besluit geneem om die geïdentifiseerde gevalle aan ’n noodtoestand te koppel nie.

Die dodelike geelkoors virus wat ook deur muskiete versprei word soos die Zika-virus, het reeds meer as 300 mense in Angola se dood veroorsaak.

Berigte wat later ontvang is, dui daarop dat meer as 3,000 nuwe gevalle van besmetting reeds aangemeld is,

Dr. Bart Jansens van Dokters Sonder Grense sê die groot aantal besmettings is uiters vreemd en daarom moet ’n grootskaalse epidemie verwag kan word.

Geneeshere in Suid-Afrika wys daarop dat die geelkoors se vinnige verspreiding na ander lande daarop dui dat mense nie voorkomende inentings kry nie, en dit kan tot ’n grootskaalse epidemie lei.

Intussen is gerapporteer dat sowat 15 mense in Sjina met geelkoors gediagnoseer is nadat hulle in Afrika besoek afgelê het.

Foto – Vergroting van die virus