Gaan Britse weermag ANC aan bewind hou?

Te midde van hewige ontkennings uit ANC kringe, blyk dit dat die Britse weermag, hetsy uit eie beweging of op versoek, werk (of gewerk het) aan ‘n plan om die ANC aan bewind te hou na Augustus 2016.

Die waarheid sal hopelik nie te lank uitbly nie, en dit is ´n ironiese onthulling in die lig van ANC-swaargewig Gwede Mantashe se gereelde “derdemag” uitlatings.

Gegewe die min inligting, is sodanige gebeure werklik vergesog?

Soos in Rhodesië, was Brittanje instrumenteel in die omverwerping van ons eie regering, in ons eie land.

Sekerlik kan ons ook die aanleidende oorsaak daarvoor vind in die Afrikaner-haat wat sedert 1795 tienduisende Afrikaner-lewens gekos het.

1989-94 was bloot die afronding van die aanslag wat Brittanje en die Statebond in 1960 teen SA, en spesifiek Afrikaner-vryheid, geloods het.

Die Engelsman het net jeens die Iere ´n dieper haat openbaar.

Die ANC was altyd welkom in Engeland en Thatcher, haar opvolgers – Konserwatief én Arbeiders –  en die koningin was almal aanhangers van aartsterroris Mandela.

Ons sien in die aanslag op ons skole, ons taal en ons waardes die Milner-doktrine in voltrekking.

Brittanje het dus sonder twyfel belang by ´n voortgesette ANC-regime.

Dit is immers hulle en hul Amerikaanse vennote wat die oorgawe destyds gefinansier en help deurvoer het.

En is dit buite die perke van moontlikheid dat Brits-Amerikaanse sakebelange vir hulself gerieflike bande opgebou het met die korrupste regeringslui ter plaatse?

Lees maar die name van buitelandse rolspelers in die wapenskandaal en besluit self.

Foto – President Jacob Zuma en koningin Elizabeth van Engeland