G7 – ons behoeftes verskil

Die G7-lande se pasafgelope byeenkoms in Japan was ʼn moeilike een.

Daar is kennis geneem dat sekere lande, waaronder Japan, weens omstandighede sy eie ekonomiese maatreëls, insluitende wisselkoersreëlings, sal moet tref wat nie algemene byval sal vind nie. So sal ander lede in hierdie krisistyd ook na hulle eie belange moet omsien.

Die algemene gevoel was dat die wêreld in onsekere omstandighede verkeer weens geografiese konflikte, terrorisme, ‘n toename in vlugtelinge en die moontlike vertrek van Brittanje uit die EU. Midde in hierdie omstandighede moet daar nogtans saamgewerk word om die knellende wêreldekonomie aan die gang te probeer kry.

Die sewe lande verteenwoordig ’n aansienlike deel van die wêreldekonomie. Hulle bevolkingsgetalle (in miljoene), Bruto Binnelandse Produk (triljoen dollars vir 2014) en verwagte ekonomiese groeikoers (vir 2016) sien soos volg daaruit:

Brittanje (64.6m, $2.99, 1.9%), Kanada (35.5m, $1.79, 1.5%), Frankryk (66.2m, $2.83, 1.1%), Duitsland (81.0m, $3.87, 1.5%), Italië (60.8m, $2.14, 1.0%), Japan (127.1m, $4.6, 0.5%) en VSA (318.9m, $17.42, 2.4%).