Franse regering knak onder betogings

Die uiters ongewilde en omstrede arbeidswet van die sosialistiese regering van Frankryk, het beswaarmakers tot die uiterste beproef en hulle het die strate van Parys oorgeneem in ’n poging om die owerheid tot besinning te bring.

Uiteindelik het die regering besef dat die optogte en besware nie gaan ophou, alvorens die wet drasties verander word nie en die onderneming is gegee dat die wet wel aangepas sal word.

Die onderneming is gegee deur die sosialiste by monde van die eerste minister, in die hoop dat ’n ooreenkoms met die stakende, betogende werkers gevind sal word.

Die Franse regering is op soek na ’n uitweg om arbeidswetgewing te wysig, maar loop hulle telkens vas teen die woedende werkersklas wat met stakings en optogte die regering in ’n drukgang plaas.

Die polisie was verplig om op ’n stadium traangas te gebruik om die woedende skare te beheer, maar dit het gelei tot groter aggressie van optoggangers.

Die regering se hoofdoel met die nuwe wetgewing is om alle sektore oor dieselfde kam te skeer, maar werkers sê dit is onbillik omdat die verskille in omstandighede tussen die sektore te groot is.

Politieke waarnemers meen die optrede van die owerheid het die deur finaal oopgedruk om die 2017 algemene verkiesing te verloor.