Franse omseil parlement oor nuwe wet

Die Franse regering het die afgelope maande die wind van voor gekry oor hulle beoogde nuwe arbeidswet, en derduisende werkers het die strate van Parys en ander stede in optogte oorstroom.

Die regering het ook in die parlement hewige weerstand gekry, maar steeds voortgegaan met die proses om die omstrede arbeidswet op die wetboek te kry.

Nou het die Hollandè regering selfs sover gegaan as om ’n omstrede grondwetbepaling te gebruik om die wet deurgevoer te kry sonder om parlementêre debat te voer, of om dit op die besprekingslys van die parlement toe te laat.

Premier Valls is bevrees dat die uiters omstrede hervorming van die arbeidswet sal sneuwel as dit in die parlement hanteer moet word, veral omdat die Front Nasionaal van Marine Le Pen ook sterk gekant is teen die beoogde wet.

Dit blyk dat die Sosialiste self ook verdeeld is oor die wetgewing, wat die premier laat gryp het na ’n bepaling in die grondwet waarvolgens hy onder sekere omstandighede ’n wet onder sekere omstandighede kan passeer sonder om ’n parlementêre stemming te hou.

Kenners meen die Franse regering is nie net besig om die demokrasie te verwerp nie, maar het ook hulle mag misbruik om ’n omstrede arbeidswet te wettig en daarmee miljoene werkers van hulle te vervreem en gooi hulle olie op ’n brandende vuur.

Foto – Premier Valls