Europa die volgende Zika slagoffer

Die hoof van die Verenigde Nasies (VN) se gesondheid-afdeling sê onvoldoende muskietbeheer is verantwoordelik vir die gevaar van die Zika-virus se verspreiding.

Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) reken Europa is nou ’n risiko wat verspreiding aanbetref met die duisende mense wat na Brasilië gaan om die Olimpiese Spele by te woon.

Die WGO se Sekretaris-generaal, Margaret Chan, het die blaam geplaas op die “massiewe politieke mislukking” om die verspreiding van die muskiete te verhoed wat nou ’n wêreldbedreiging geword het.

Sy sê die geweldige probleem waarmee die wêreld nou te kampe het, is die prys wat betaal word vir die nalatigheid van die verantwoordelike instansies om betyds op te tree teen die gevaar van besmetting en verspreiding.

Navorsers het ontdek hoe die Zika-virus gestruktureer is, wat help dat daar nou beter verstaan word watter skade aan ongebore babas aangerig word, en hoe dit gebeur.

Dit bied ook ’n beter begrip van hoe ’n teenmiddel moet werk om die virus in die liggaam te beveg.

Gesinsbeplanning het nou vir derduisende mense ’n nuwe betekenis gekry, en die lewens van baie ouerpare sal beïnvloed word weens die negatiewe gevolge wat dit teweegbring by babas wat abnormaal sal wees.