Emily Hobhouse – "die edelste onder die edeles"

Dit tref bykans onmiddellik – die jong meisie se gelaatstrekke is onmiskenbaar dié van haar naamgenoot, die hare en die gesigsprofiel.

En dit is aangrypend dat die 19-jarige Emily Hobhouse 90 jaar na haar groot-groot tante se oorlye in haar voetspore kom stap het.

Afrikaners herken bykans onmiddellik die mooi jong meisie, want haar groot-groot tante se gesig is in ons geheue en geskiedenis verewig as dié van ‘n Boere-heldin.

Emily Hobhouse jr. se besoek het die afgelope naweek saamgeval met ‘n kranslegging by die Burgermonument, waarna ‘n Bittereindergedenklesing gehou is deur Vriende van die Oorlogsmuseum.

‘n Boekbespreking deur die skrywer, Robert Eales, oor sy boek, The Compassionate Englishwoman is voorts aangebied. Die skrywer is tans in Suid-Afrika vir die bekendstelling van die boek deur ‘n plaaslike uitgewer nadat dit reeds vroeër in Australië gepubliseer is.

Eales het in Suid-Afrika grootgeword, en woon die afgelope jare in Australië.

Emily Hobhouse sr. is in 1926 oorlede, waarna haar as na Suid-Afrika gebring is en in ‘n nissie by die Vrouemonument geplaas is.

Die jong meisie wys daarop dat sy besluit het om soos haar groot-groot tante te wees deur goed te doen aan ander mense.

Aan Emily Hobhouse jr. word die volgende gedeelte uit haar groot-groot tante se toespraak tydens die onthulling van die Vrouemonument in 1913 opgedra, want elke Afrikaner dra Emily Hobhouse in hulle harte: “nie om ou verdriet weer wakker te maak, maar as ‘n heroïese inspirasie.  Want wat nooit sterf nie, en nooit mag sterf nie, is die groot voorbeeld…”.

Hobhouse sr. kon weens swak gesondheid nie self die onthulling bywoon nie, en haar toespraak is voorgelees.

Sy kon die onreg van die konsentrasiekampe help beveg omdat haar mees uitstaande eienskap in die woorde van generaal Christiaan de Wet was:  “sy is die edelste onder die edeles van haar nasie”.