El Niño is verby

Die ergste El Niño-weerverskynsel in twee dekades het die wyk geneem nadat dit ‘n spoor van verwoesting agtergelaat het.

Volgens die Australiese Buro vir Meteorologie (BOM) het die see-oppervlak se temperatuur in die tropiese Stille Oseaan die afgelope twee weke tot neutrale vlakke afgekoel.

In die atmosfeer het aanwysers ook tot neutrale vlakke teruggekeer. Dit sluit passaatwinde, bewolktheid naby die Internasionale Datumlyn en die Suidelike Ossilasie-Indeks in.

Die buro meen daar is min kans vir ‘n terugkeer na El Niño-vlakke en dit beteken die einde van die El Niño van 2015/’16 het tydens die middel van Mei aangebreek.

Die El Niño-weerverskynsel vernietig gewasse in Asië en Afrika weens uiterste hitte en droogte. Dit lei weer tot swaar reën en vloede in Suid-Amerika en dele van Noord-Amerika.